1 | AG, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig |
2 | — soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel — om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe |
3 | wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie — as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig! |
4 | Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ’n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. |
5 | U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. Kyk, Ú was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie lank, en — sal ons verlos word? |
6 | En ons het almal geword soos ’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. |
7 | En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede. |
8 | Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand. |
9 | HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is. |
10 | U heilige stede het ’n woestyn geword; Sion het ’n woestyn geword, Jerusalem ’n wildernis. |
11 | Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het ’n puinhoop geword. |
12 | HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk? |