| 1 | DINK, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. |
| 2 | Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders. |
| 3 | Ons het wese geword, sonder ’n vader, ons moeders is soos weduwees. |
| 4 | Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in. |
| 5 | Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word. |
| 6 | Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word. |
| 7 | Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede. |
| 8 | Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie. |
| 9 | Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn. |
| 10 | Ons vel gloei soos ’n oond vanweë die gloed van die honger. |
| 11 | Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda. |
| 12 | Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie. |
| 13 | Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout. |
| 14 | Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel. |
| 15 | Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander. |
| 16 | Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het. |
| 17 | Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister: |
| 18 | ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop. |
| 19 | Ú, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag. |
| 20 | Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae? |
| 21 | Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. |
| 22 | Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot? |