1 | EK spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie — my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees — |
2 | dat dit vir my ’n groot droefheid is en ’n onophoudelike smart vir my hart. |
3 | Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ’n vervloeking te wees, wég van Christus af. |
4 | Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; |
5 | aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen. |
6 | MAAR ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. |
7 | Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. |
8 | Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. |
9 | Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ’n seun hê. |
10 | En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. |
11 | Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — |
12 | is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. |
13 | Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. |
14 | Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! |
15 | Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. |
16 | So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. |
17 | Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. |
18 | So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. |
19 | Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? |
20 | Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? |
21 | Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? |
22 | En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, |
23 | juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, |
24 | ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? |
25 | Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; |
26 | en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. |
27 | En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; |
28 | want Hy volbring ’n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ’n saak wat verkort is, op die aarde sal doen. |
29 | En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie ’n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het. |
30 | Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; |
31 | terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. |
32 | Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. |
33 | Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. |