1 | TOE Israel ’n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep. |
2 | Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan. |
3 | En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie. |
4 | Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee. |
5 | Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur — dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer. |
6 | En die swaard sal geswaai word in sy stede en sy grendels vernietig en verteer weens hulle planne. |
7 | Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie. |
8 | Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Sebóim: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek. |
9 | Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ’n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie. |
10 | Hulle sal agter die HERE aan trek; Hy sal brul soos ’n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom. |
11 | Hulle sal sidderende aankom soos ’n voëltjie uit Egipte en soos ’n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE. |