1 | MAAR Job het geantwoord en gesê: |
2 | Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan, die kragtelose arm gehelp! |
3 | Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee en beleid in oorvloed bekend gemaak! |
4 | Aan wie het jy woorde te kenne gegee, en wie se gees het uit jou uitgegaan? |
5 | Die skimme is beangs onder die waters en onder die bewoners daarvan. |
6 | Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie — |
7 | voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor ’n niks; |
8 | wat die waters saambind in sy wolke sonder dat die wolkgevaarte daaronder skeur; |
9 | wat die gesig van die troon toehou deurdat Hy sy wolk daaroor uitsprei. |
10 | Hy het ’n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig. |
11 | Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging. |
12 | Deur sy krag bring Hy die see in beroering, en deur sy verstand verpletter Hy Rahab. |
13 | Deur sy asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor. |
14 | Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan? |