| 1 | DIT is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. |
| 2 | Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. |
| 3 | Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy ’n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. |
| 4 | En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 5 | So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterwe. |
| 6 | Toe Set honderd-en-vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. |
| 7 | En Set het ná die geboorte van Enos nog agthonderd-en-sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 8 | So was dan al die dae van Set negehonderd-en-twaalf jaar, en hy het gesterwe. |
| 9 | Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword. |
| 10 | En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agthonderd-en-vyftien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 11 | So was dan al die dae van Enos negehonderd-en-vyf jaar, en hy het gesterwe. |
| 12 | Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword. |
| 13 | En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agthonderd-en-veertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 14 | So was dan al die dae van Kenan negehonderd-en-tien jaar, en hy het gesterwe. |
| 15 | Toe Mahalálel vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword. |
| 16 | En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agthonderd-en-dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 17 | So was dan al die dae van Mahalálel agthonderd-vyf-en-negentig jaar, en hy het gesterwe. |
| 18 | Toe Jered honderd-twee-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. |
| 19 | En Jered het ná die geboorte van Henog nog agthonderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 20 | So was dan al die dae van Jered negehonderd-twee-en-sestig jaar, en hy het gesterwe. |
| 21 | Toe Henog vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword. |
| 22 | En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 23 | So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar. |
| 24 | En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem. |
| 25 | Toe Metúsalag honderd-sewen-en-tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. |
| 26 | En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewehonderd-twee-en-tagtig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 27 | So was dan al die dae van Metúsalag negehonderd-nege-en-sestig jaar, en hy het gesterwe. |
| 28 | Toe Lameg honderd-twee-en-tagtig jaar oud was, het hy ’n seun verwek |
| 29 | en hom Noag genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het. |
| 30 | En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyfhonderd-vyf-en-negentig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. |
| 31 | So was dan al die dae van Lameg sewehonderd-sewen-en-sewentig jaar, en hy het gesterwe. |
| 32 | En Noag was vyfhonderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet. |