1 | MY seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig, |
2 | dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar; |
3 | want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, |
4 | maar op die end is sy bitter soos wildeals, soos ’n swaard aan weerskante skerp. |
5 | Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe. |
6 | Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet. |
7 | Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie. |
8 | Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie, |
9 | sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie; |
10 | sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van ’n uitlander kom nie |
11 | en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is, |
12 | en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad, |
13 | en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie! |
14 | Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente. |
15 | Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. |
16 | Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? |
17 | Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. |
18 | Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug — |
19 | die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees. |
20 | Maar waarom sou jy, my seun, by ’n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ’n ontugtige omhels? |
21 | Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange. |
22 | Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou. |
23 | Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal. |