1 | VIR die musiekleier; op die wysie van: „Die Duif van die ver Terebinte.” Van Dawid. ’n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat. |
2 | Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag. |
3 | My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed. |
4 | Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou. |
5 | Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen? |
6 | Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen. |
7 | Hulle val aan, lê en loer — hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het. |
8 | Ondanks hul ongeregtigheid — sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God! |
9 | Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie? |
10 | Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is. |
11 | Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys. |
12 | Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen? |
13 | Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal; |
14 | want U het my siel gered van die dood — ja, my voete van struikeling — om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe. |