| 1 | HOE mooi is u tog, my vriendin, hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe deur u sluier heen; u hare is soos ’n kudde bokke wat van die gebergte van Gílead afgolf. |
| 2 | U tande is soos ’n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie. |
| 3 | U lippe is soos ’n skarlaken band, en u mond is lieflik. U slape is soos ’n granaatskyf deur u sluier heen. |
| 4 | U hals is soos die Dawidstoring, gebou met muurkranse waar die duisend skilde in hang, almal skilde van helde. |
| 5 | U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van ’n gemsbok, wat onder die lelies wei. |
| 6 | Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, sal ek gaan na die mirreberg en na die wierookheuwel. |
| 7 | Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie. |
| 8 | Saam met my van die Líbanon af, bruid, saam met my van die Líbanon af, o kom! Trek af van die top van Amána, van die top van Senir en van Hermon, van die lêplekke van die leeus, van die berge van die luiperds. |
| 9 | U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad. |
| 10 | Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye! |
| 11 | Heuningstroop drup van u lippe af, bruid, heuning en melk is onder u tong, en die geur van u klere is soos die geur van die Líbanon. |
| 12 | My susterbruid is ’n geslote tuin, ’n geslote bron, ’n verseëlde fontein. |
| 13 | U spruite is ’n park van granate met kostelike vrugte, henna-blomme met nardus, |
| 14 | nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye. |
| 15 | U is ’n fontein van die tuine, ’n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei. |
| 16 | Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet. |