1 | GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. |
2 | Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; |
3 | en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. |
4 | Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. |
5 | Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. |
6 | Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. |
7 | GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. |
8 | Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. |
9 | Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. |
10 | Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. |
11 | Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. |
12 | Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. |
13 | Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. |
14 | En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. |
15 | Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God. |
16 | En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. |
17 | Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. |
18 | Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. |
19 | Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. |
20 | As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? |
21 | En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. |