1 | IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; |
2 | vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. |
3 | Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, |
4 | wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. |
5 | Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, |
6 | wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, |
7 | waartoe ek aangestel is as ’n prediker en apostel — ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie — ’n leraar van die heidene in geloof en waarheid. |
8 | Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis. |
9 | SO ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, |
10 | maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. |
11 | Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. |
12 | Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. |
13 | Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. |
14 | En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. |
15 | Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid. |