1 | EN sy seun Jósafat het in sy plek koning geword en hom versterk teen Israel. |
2 | En hy het ’n leërmag in al die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land Juda opgestel en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het. |
3 | En die HERE was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel en die Baäls nie gesoek nie, |
4 | maar die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie. |
5 | Daarom het die HERE die koningskap in sy hand bevestig; en die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het. |
6 | En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder. |
7 | En in die derde jaar van sy regering het hy sy owerstes Ben-Hail en Obádja en Sagaría en Netáneël en Migája gestuur om in die stede van Juda onderrig te gee; |
8 | en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Ásahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram. |
9 | En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die HERE by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee. |
10 | En ’n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie. |
11 | En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en ’n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend-sewehonderd ramme en seweduisend-sewehonderd bokke. |
12 | So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou. |
13 | En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem. |
14 | En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde; |
15 | en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend; |
16 | en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die HERE, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde; |
17 | en uit Benjamin was Éljada, ’n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild; |
18 | en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen. |
19 | Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het. |