1 | SO sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het. |
2 | Daarom sal Ek ’n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kérijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal. |
3 | En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom doodmaak, sê die HERE. |
4 | So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het. |
5 | Daarom sal Ek ’n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem verteer. |
6 | So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir ’n paar skoene. |
7 | Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom, en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde jongedogter om my heilige Naam te ontheilig. |
8 | En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die wat beboet is, drink hulle in die huis van hul god. |
9 | En tog het Ék die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar Ek het sy vrug daarbo en sy wortels daaronder verdelg. |
10 | Ook het Ek julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem. |
11 | En Ek het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek. Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek die HERE. |
12 | Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie! |
13 | Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos ’n wa kraak wat vol gerwe is; |
14 | sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie. |
15 | En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie. |
16 | En die dapperste onder die helde sal op dié dag naak wegvlug, spreek die HERE. |