1 | MY gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my. |
2 | Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus. |
3 | GEE tog ’n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen? |
4 | Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie. |
5 | Hy wat vriende aanklaag vir ’n buitaandeel — die oë van sy kinders sal versmag. |
6 | Maar Hy het my ’n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug. |
7 | Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos ’n skaduwee. |
8 | Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand. |
9 | Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag. |
10 | MAAR, kom maar altyd weer aan, julle almal! ’n Wyse vind ek onder julle tog nie. |
11 | My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart. |
12 | Van die nag maak hulle ’n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis. |
13 | As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei, |
14 | die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster, |
15 | waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit? |
16 | Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof. |