1 | MAAR Job het geantwoord en gesê: |
2 | Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan ’n mens regverdig wees by God? |
3 | As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie. |
4 | Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly? |
5 | Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn; |
6 | wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril; |
7 | wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter ’n seël wegsluit; |
8 | wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see; |
9 | wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide; |
10 | wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal. |
11 | Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk. |
12 | Sleep Hy weg — wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U? |
13 | God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip. |
14 | HOEVEEL minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom; |
15 | Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek! |
16 | As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie. |
17 | Hy wat my deur ’n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder; |
18 | my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede. |
19 | Kom dit aan op die krag van die sterkste — hier is Ek! En kom dit op reg aan — wie kan My dagvaar? |
20 | Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as ’n verkeerde reken. |
21 | Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe! |
22 | DIT is net eenders — daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy. |
23 | As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges. |
24 | Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders? |
25 | Ja, my dae was gouer as ’n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien. |
26 | Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos ’n arend wat neerskiet op sy prooi. |
27 | As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word, |
28 | dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie. |
29 | Ek sal tog skuldig wees — waarom sal ek my dan tevergeefs afmat? |
30 | Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog, |
31 | dan sou U my in ’n poel indompel, sodat my klere van my ’n afsku kry. |
32 | Want Hy is nie ’n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie. |
33 | Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie. |
34 | Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie; |
35 | dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie. |