1 | EN die manne van Efraim is saamgeroep en het oorgetrek na Safon toe en vir Jefta gesê: Waarom het u deurgetrek om teen die kinders van Ammon te veg en óns nie geroep om saam met u te trek nie? Ons sal u huis bo u met vuur verbrand. |
2 | Maar Jefta sê vir hulle: Ek en my volk het ’n hewige twis met die kinders van Ammon gehad, en ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand verlos nie. |
3 | En toe ek sien dat jy nie help nie, het ek my lewe gewaag en deurgetrek na die kinders van Ammon; en die HERE het hulle in my hand gegee. Waarom het julle dan vandag teen my opgetrek om teen my oorlog te voer? |
4 | Daarop versamel Jefta al die manne van Gílead om teen Efraim te veg; en die manne van Gílead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: Julle, Gileadiete, is vlugtelinge van Efraim, in die midde van Efraim en Manasse. |
5 | En Gílead het die Efraimiete van die Jordaan-driwwe afgesny; en as die vlugtelinge van Efraim sê: Ek wil deurgaan — dan vra die manne van Gílead vir hom: Is jy ’n Efraimiet? As hy sê: Nee, |
6 | dan vra hulle hom: Sê bietjie: Sjibbolet! En as hy sê: Sibbolet! en nie ag gee om dit reg uit te spreek nie, dan gryp hulle hom en maak hom by die Jordaan-driwwe dood. So het daar dan in dié tyd van Efraim twee-en-veertigduisend man geval. |
7 | En Jefta het Israel ses jaar lank gerig; en Jefta, die Gileadiet, het gesterwe en is begrawe in een van die stede van Gílead. |
8 | EN ná hom het Ebsan, uit Betlehem, Israel gerig. |
9 | En hy het dertig seuns gehad, en dertig dogters het hy uitgehuwelik en van buite af dertig dogters vir sy seuns ingebring; en hy het Israel sewe jaar lank gerig. |
10 | En Ebsan het gesterwe en is begrawe in Betlehem. |
11 | En ná hom het Elon, die Sebuloniet, Israel gerig; en hy het Israel tien jaar lank gerig. |
12 | En Elon, die Sebuloniet, het gesterwe en is begrawe in Ájalon, in die land Sébulon. |
13 | En ná hom het Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, Israel gerig. |
14 | En hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig jong esels gery het; en hy het Israel agt jaar lank gerig. |
15 | En Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, het gesterwe en is begrawe in Píreaton, in die land Efraim, op die gebergte van die Amalekiete. |