1 | DAAR was ’n man van die gebergte van Efraim met die naam van Miga. |
2 | Dié het aan sy moeder gesê: Die elfhonderd sikkels silwer wat van u geneem is en waaroor u ’n vloek uitgespreek het en dit ook voor my ore gesê het — hier is die geld by my, ék het dit geneem. Toe sê sy moeder: Mag jy geseënd wees deur die HERE, my seun! |
3 | En hy het aan sy moeder die elfhonderd sikkels silwer teruggegee. Maar sy moeder het gesê: Ek heilig plegtig die geld aan die HERE; uit my hand is dit vir my seun om ’n gesnede en ’n gegote beeld te maak; ek sal dit dan nou aan jou teruggee. |
4 | Toe hy dan die geld aan sy moeder teruggegee het, neem sy moeder tweehonderd sikkels silwer en gee dit aan ’n goudsmid; en hy het daar ’n gesnede en ’n gegote beeld van gemaak wat in die huis van Miga gekom het. |
5 | Die man Miga het naamlik ’n godshuis gehad, en hy het ’n skouerkleed en huisgode gemaak en een van sy seuns aangestel om vir hom priester te wees. |
6 | In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. |
7 | En daar was ’n jongman van Betlehem-Juda, uit die geslag van Juda; hy was ’n Leviet wat daar as vreemdeling vertoef het. |
8 | En die man het uit die stad, uit Betlehem-Juda, getrek om te vertoef waar hy plek kon kry; en op sy reis het hy in die gebergte van Efraim gekom tot by die huis van Miga. |
9 | En Miga vra hom: Waar kom u vandaan? Toe sê hy vir hom: Ek is ’n Leviet, uit Betlehem-Juda, en ek is op trek om te vertoef waar ek plek kan kry. |
10 | En Miga sê vir hom: Bly by my, en wees vir my ’n vader en ’n priester, dan sal ek u jaarliks tien sikkels silwer gee en ’n stel klere en u lewensonderhoud. En die Leviet het gegaan, |
11 | en die Leviet het ingewillig om by die man te bly; en die jongman was vir hom soos een van sy seuns. |
12 | En Miga het die Leviet aangestel, sodat die jongman sy priester geword het, en hy was in die huis van Miga. |
13 | Toe sê Miga: Nou weet ek dat die HERE aan my goed sal doen, omdat ek ’n Leviet as priester het. |