1 | EN Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, |
2 | en gesê: Daar was ’n regter in ’n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. |
3 | En daar was in daardie stad ’n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. |
4 | En ’n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, |
5 | tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. |
6 | Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. |
7 | Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? |
8 | Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind? |
9 | EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. |
10 | Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. |
11 | En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. |
12 | Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. |
13 | En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig! |
14 | Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word. |
15 | EN hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. |
16 | Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. |
17 | Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. |
18 | EN ’n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? |
19 | En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. |
20 | Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder. |
21 | En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. |
22 | En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou — verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. |
23 | Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk. |
24 | En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. |
25 | Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. |
26 | Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word? |
27 | Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. |
28 | Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. |
29 | En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God, |
30 | wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom. |
31 | EN Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word. |
32 | Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word; |
33 | en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. |
34 | Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie. |
35 | EN terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar ’n blinde man langs die pad en bedel; |
36 | en toe hy ’n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is. |
37 | En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby. |
38 | Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig! |
39 | En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! |
40 | En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom |
41 | en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien. |
42 | En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. |
43 | En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee. |