1 | VAN Dawid. ’n Psalm. Ek wil sing van goedertierenheid en reg; tot u eer wil ek psalmsing, o HERE! |
2 | Ek wil ag gee op regskape wandel — wanneer sal U na my kom? Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis. |
3 | Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie. |
4 | ’n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie. |
5 | Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie. |
6 | My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien. |
7 | Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie. |
8 | Elke môre sal ek al die goddelose van die land vernietig, om al die werkers van ongeregtigheid uit die stad van die HERE uit te roei. |