1 | VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. |
2 | Red my, HERE, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld; |
3 | wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek. |
4 | Hulle maak hul tong skerp soos ’n slang; gif van ’n adder is onder hulle lippe. Sela. |
5 | Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot. |
6 | Trotsaards het vir my ’n vangnet gespan en toue; hulle het ’n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela. |
7 | Ek het tot die HERE gesê: U is my God; luister tog, HERE, na die stem van my smekinge! |
8 | HERE Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd! |
9 | HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela. |
10 | Wat betref die hoof van die wat my omring — laat die onheil van hulle lippe hulle oordek. |
11 | Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie! |
12 | Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld — laat die ongeluk hom jaag met slag op slag. |
13 | Ek weet dat die HERE die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig. |
14 | Sekerlik, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig woon. |