1 | VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. |
2 | O HERE, die koning is bly oor u sterkte, en hoe baie juig hy oor u hulp! |
3 | U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie. Sela. |
4 | Want U kom hom tegemoet met seëninge van die goeie; op sy hoof sit U ’n kroon van fyn goud. |
5 | Die lewe het hy van U begeer; U het hom dit gegee: lengte van dae, vir ewig en altyd. |
6 | Groot is sy eer deur u hulp; majesteit en heerlikheid het U op hom gelê. |
7 | Want U maak hom baie geseënd vir ewig; U maak hom bly met vreugde by u aangesig. |
8 | Want die koning vertrou op die HERE, en deur die goedertierenheid van die Allerhoogste sal hy nie wankel nie. |
9 | U hand sal al u vyande vind; u regterhand sal u haters vind. |
10 | U sal hulle maak soos ’n vurige oond as U verskyn; die HERE sal hulle verslind in sy toorn, en vuur sal hulle verteer. |
11 | U sal hulle vrug van die aarde af verdelg en hulle nageslag van die mensekinders af weg. |
12 | Want hulle het U met onheil bedreig; hulle het ’n listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig. |
13 | Want U sal hulle dwing om te vlug; met u boogsnare sal u mik op hulle gesig. |
14 | Verhef U, HERE, in u sterkte; ons wil u heldekrag eer met psalmgesang! |