Psalms Chapter 24

Psalms Chapter 24

1’n PSALM van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
2want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.
3Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?
4Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
5Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.
6Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek — dit is Jakob. Sela.
7Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
8Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.
9Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
10Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare — Hy is die Erekoning! Sela.

Psalms Chapter 23Psalms Chapter 25