1 | VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. ’n Psalm. |
2 | Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ’n stem van gejubel! |
3 | Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ’n groot Koning oor die hele aarde. |
4 | Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete. |
5 | Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Jakob wat Hy liefhet. Sela. |
6 | God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. |
7 | Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing! |
8 | Want God is Koning van die hele aarde; psalmsing met ’n onderwysing. |
9 | God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon. |
10 | Die edeles van die volke het vergader — ’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy! |