1 | VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” ’n Getuienis. Van Asaf. ’n Psalm. |
2 | O Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans! |
3 | Wek u mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp! |
4 | O God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! |
5 | o HERE, God van die leërskare, hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk? |
6 | U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink. |
7 | U het ons ’n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot. |
8 | O God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! |
9 | ’n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant. |
10 | U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul. |
11 | Die berge was oordek met sy skaduwee, en met sy ranke die seders van God. |
12 | Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe. |
13 | Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk? |
14 | Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af. |
15 | O God van die leërskare, kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok; |
16 | en wees ’n beskerming vir wat u regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het. |
17 | Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om. |
18 | Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het. |
19 | Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep. |
20 | O HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! |