1 | ’n LIED. ’n Psalm van Asaf. |
2 | O God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! |
3 | Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. |
4 | Teen u volk smee hulle listig ’n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. |
5 | Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. |
6 | Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond: |
7 | die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, |
8 | Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. |
9 | Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot. Sela. |
10 | Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison: |
11 | hulle is verdelg by En-Dor, hulle het mis geword vir die grond. |
12 | Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Sálmuna, |
13 | wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! |
14 | My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind. |
15 | Soos vuur wat ’n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek — |
16 | vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind. |
17 | Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o HERE! |
18 | Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom; |
19 | sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde. |