1 | ’n PSALM. ’n Lied vir die sabbatdag. |
2 | Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, |
3 | om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte; |
4 | by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter. |
5 | Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande. |
6 | Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes! |
7 | ’n Dom mens weet nie, en ’n dwaas verstaan dit nie: |
8 | as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg. |
9 | Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE! |
10 | Want kyk, u vyande, o HERE, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word. |
11 | Maar U verhoog my horing soos van ’n buffel; ek is met vars olie gesalf. |
12 | En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan. |
13 | Die regverdige sal groei soos ’n palmboom; hy sal opgroei soos ’n seder op die Líbanon. |
14 | Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. |
15 | In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, |
16 | om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie. |