1 | EN ek het my oë opgehef en gekyk — daar was ’n man met ’n meetsnoer in sy hand. |
2 | Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is. |
3 | En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en ’n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet, |
4 | aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos ’n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in. |
5 | En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ’n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in. |
6 | Op, op, vlug uit die Noordland, spreek die HERE! Want Ek het julle na die vier windstreke van die hemel verstrooi, spreek die HERE. |
7 | Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel! |
8 | Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sý oogappel aan. |
9 | Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ’n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het. |
10 | Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE. |
11 | En baie nasies sal hulle in dié dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot ’n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na jou gestuur het. |
12 | En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies. |
13 | Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning. |