Sagaría Chapter 6

Sagaría Chapter 6

1EN ek het weer my oë opgeslaan en gekyk — daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.
2Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.
4Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
5En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.
6Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.
7En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.
8Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde.
9En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
10Neem aan van die ballinge, uit die hand van Héldai, Tobía en Jedája — kom jy op dieselfde dag en gaan na die huis van Josía, die seun van Sefánja, waar hulle uit Babel aangekom het —
11neem dan aan silwer en goud, en maak ’n kroon en sit dit op die hoof van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester,
12en sê vir hom dit: So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ’n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.
13Ja, Hý sal die tempel van die HERE bou, en Hý sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ’n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.
14En die kroon moet as gedagtenis bly aan Helem en Tobía en Jedája, en aan die vriendelikheid van die seun van Sefánja in die tempel van die HERE.
15En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die HERE bou. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. En dit sal so wees, as julle nougeset luister na die stem van die HERE julle God.

Sagaría Chapter 5Sagaría Chapter 7