Markus Chapter 5

Markus Chapter 5

1EN hulle het aan die oorkant van die see gekom in die land van die Gadaréners.
2En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ’n man met ’n onreine gees,
3wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie;
4want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.
5En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.
6En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer
7en skreeu met ’n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.
8Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit!
9En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie.
10Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie.
11En dáár teen die berge het ’n groot trop varke gewei,
12en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.
13En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop — daar was omtrent tweeduisend — het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.
14En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het.
15Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand — die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees.
16Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke.
17En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.
18En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
19Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.
20En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.
21EN toe Jesus weer in die skuit oorgevaar het na die ander kant, het ’n groot menigte by Hom vergader. En Hy was by die see.
22En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer
23en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe.
24En Hy het saam met hom gegaan. En ’n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring.
25En ’n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het
26en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het,
27het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak;
28want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.
29En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was.
30En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak?
31En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak?
32Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het.
33Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.
34En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.
35Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?
36Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.
37En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus.
38En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien ’n rumoer: mense wat baie ween en huil.
39En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.
40En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê.
41Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!
42En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas.
43En Hy het hulle met nadruk beveel dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat daar vir haar iets te ete gegee moes word.

Markus Chapter 4Markus Chapter 6