| 1 | DIE wyn is ’n spotter, en sterk drank ’n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie. |
| 2 | Die dreiging van die koning is soos die gebrom van ’n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe. |
| 3 | Dit is ’n eer vir ’n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los. |
| 4 | In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie. |
| 5 | Die raad in die hart van ’n man mag diep waters wees, ’n man van verstand sal dit tog uitskep. |
| 6 | Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind ’n betroubare man? |
| 7 | Wie in sy regskapenheid wandel as ’n regverdige — gelukkig is sy kinders ná hom. |
| 8 | ’n Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat sleg is. |
| 9 | Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde? |
| 10 | Twee soorte gewig, twee soorte maat — hulle altwee is vir die HERE ’n gruwel. |
| 11 | Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is. |
| 12 | ’n Oor wat hoor, en ’n oog wat sien — die HERE het hulle altwee gemaak. |
| 13 | Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig. |
| 14 | Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom. |
| 15 | Daar is goud en ’n menigte korale, maar ’n kosbare sieraad is die lippe van kennis. |
| 16 | Neem sy kleed weg, want hy het vir ’n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes. |
| 17 | Soet is vir ’n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies. |
| 18 | Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg. |
| 19 | Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie. |
| 20 | Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood. |
| 21 | ’n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is — die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie. |
| 22 | Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help. |
| 23 | Twee soorte gewig is vir die HERE ’n gruwel, en ’n valse weegskaal is nie goed nie. |
| 24 | Die voetstappe van ’n man hang van die HERE af: hoe sou ’n mens dan sy weg verstaan? |
| 25 | Dit is vir die mens ’n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg. |
| 26 | ’n Wyse koning wan die goddelose uit en laat die dorswiel oor hulle draai. |
| 27 | Die gees van die mens is ’n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste. |
| 28 | Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon. |
| 29 | Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare. |
| 30 | Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste. |