| 1 | ’n GEBED van ’n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. |
| 2 | O HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom! |
| 3 | Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou! |
| 4 | Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos ’n vuurherd. |
| 5 | Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet. |
| 6 | Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees. |
| 7 | Ek is soos ’n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos ’n uil op die puinhope. |
| 8 | Ek is slapeloos en het geword soos ’n eensame voël op die dak. |
| 9 | Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as ’n vloek. |
| 10 | Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane, |
| 11 | vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp. |
| 12 | My dae is soos ’n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek. |
| 13 | Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag. |
| 14 | Ú sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom. |
| 15 | Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin. |
| 16 | Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid; |
| 17 | omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het, |
| 18 | Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie. |
| 19 | Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof; |
| 20 | omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het, |
| 21 | om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood; |
| 22 | sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem, |
| 23 | as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien. |
| 24 | Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort. |
| 25 | My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie — u jare is van geslag tot geslag! |
| 26 | In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. |
| 27 | Húlle sal vergaan, maar Ú sal bly; ja, hulle almal sal soos ’n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ’n kledingstuk, en hulle verdwyn. |
| 28 | Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie. |
| 29 | Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan. |