1 | MAAR hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde. |
2 | Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte. |
3 | My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit. |
4 | Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend. |
5 | As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed! |
6 | Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp. |
7 | Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie. |
8 | SEKERLIK, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor: |
9 | Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie. |
10 | Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir ’n vyand van Hom. |
11 | Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie. |
12 | Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as ’n mens. |
13 | Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van ’n mens nie antwoord nie? |
14 | WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. |
15 | In die droom, in ’n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, |
16 | dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; |
17 | om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; |
18 | sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie. |
19 | OOK word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente, |
20 | sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys. |
21 | Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit. |
22 | Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte. |
23 | Is daar dan vir hom ’n gesant, ’n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee; |
24 | en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het ’n losprys gevind — |
25 | dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid. |
26 | Hy bid tot God, en Hy het ’n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid. |
27 | Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. |
28 | Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig. |
29 | Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met ’n mens |
30 | om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe. |
31 | Let op, o Job! Luister na my; swyg, en ék sal spreek. |
32 | As u woorde het, antwoord my; spreek, want ek wil u graag gelyk gee. |
33 | So nie, luister ú dan na my; swyg, en ek sal u wysheid leer. |