1 | VERDER het Elíhu aangehef en gesê: |
2 | Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het! |
3 | Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe. |
4 | Laat ons vir onsself uitmaak wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is. |
5 | Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem. |
6 | Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding! |
7 | Waar is ’n man soos Job wat godslastering drink soos water? |
8 | Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense? |
9 | Want hy het gesê: Dit baat ’n man niks dat hy ’n welgevalle aan God het nie. |
10 | DAAROM, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg! |
11 | Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens ’n man se wandel laat Hy hom ondervind. |
12 | Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie. |
13 | Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond? |
14 | As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, |
15 | dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer. |
16 | As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde. |
17 | Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel? |
18 | Durf iemand aan ’n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose! |
19 | Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande. |
20 | In ’n oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word ’n volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf — nie deur ’n hand nie. |
21 | Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe. |
22 | Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie. |
23 | Want Hy hoef nie lank op ’n mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie. |
24 | Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek. |
25 | So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word. |
26 | Hy straf hulle soos goddelose op die plek waar almal dit sien, |
27 | omdat hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee het nie — |
28 | om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor. |
29 | En gee Hý rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? — of dit al ’n nasie betref of ’n mens, almal saam; |
30 | sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie. |
31 | WANT sê iemand wel tot Gód: Ek boet sonder dat ek sleg handel; |
32 | wat ek nie insien nie, leer Ú my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie — |
33 | moet Hy volgens u mening tog vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet — spreek dit uit! |
34 | Manne van verstand sal vir my sê, en ’n wyse man wat my aanhoor: |
35 | Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand. |
36 | Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners. |
37 | Want hy voeg ’n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God. |