1 | VERDER het Elíhu aangehef en gesê: |
2 | Hou u dit vir reg, noem u dit: my geregtigheid voor God, |
3 | dat u vra wat dit u baat? Wat help dit my meer as wanneer ek sou sondig? |
4 | Ék sal u antwoord gee en aan u vriende saam met u. |
5 | Kyk op na die hemel en sien, en aanskou die wolke wat hoog bo u is. |
6 | As u sondig, watter skade is dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen? |
7 | As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem? |
8 | U goddeloosheid raak net ’n mens soos u, en u geregtigheid ’n mensekind. |
9 | VANWEË die menigte van verdrukkinge skreeu hulle; hulle roep om hulp oor die geweld van die grotes. |
10 | Maar niemand sê nie: Waar is God, my Maker, wat lofsange gee in die nag, |
11 | wat ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel? |
12 | Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners. |
13 | Sekerlik, na nietige klagte luister God nie, en die Almagtige slaan daar geen ag op nie. |
14 | Hoeveel minder as u sê u sien Hom nie! Die regsaak is voor Hom: wag dan op Hom. |
15 | Maar nou, omdat sy toorn nie straf nie, en Hy nie grootliks ag gee op oormoed nie, |
16 | maak Job sy mond wyd oop in nietige gepraat, vermenigvuldig hy woorde sonder kennis. |