1 | VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: |
2 | Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring. |
3 | En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as ’n voortdurende brandoffer. |
4 | Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei; |
5 | met ’n tiende van ’n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ’n kwart-hin uitgestampte olie. |
6 | Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, ’n vuuroffer aan die HERE. |
7 | En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ’n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet. |
8 | En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei — ’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. |
9 | MAAR op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van ’n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort. |
10 | Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
11 | En by die begin van julle maande moet julle ’n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek; |
12 | en drie-tiendes van ’n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee-tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram; |
13 | en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is ’n brandoffer, ’n lieflike geur, ’n vuuroffer aan die HERE. |
14 | En hulle drankoffers moet wees ’n half-hin wyn vir ’n bul en ’n derde van ’n hin vir ’n ram en ’n kwart-hin vir ’n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar. |
15 | Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
16 | EN in die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is die pasga van die HERE. |
17 | En op die vyftiende dag van hierdie maand is dit fees; sewe dae lank moet ongesuurde brode geëet word. |
18 | Op die eerste dag moet daar ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. |
19 | Maar julle moet as vuuroffer, as brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram en sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees. |
20 | En hulle spysoffer fynmeel met olie gemeng: drie-tiendes van ’n efa vir ’n bul en twee-tiendes vir ’n ram moet julle berei. |
21 | Een-tiende moet jy vir elke lam van die sewe lammers berei. |
22 | Daarby een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen. |
23 | Behalwe die môrebrandoffer, wat as voortdurende brandoffer dien, moet julle dit berei. |
24 | Op dié manier moet julle elke dag, sewe dae lank, die vuurofferspys van lieflike geur vir die HERE berei; by die voortdurende brandoffer moet dit berei word — en die drankoffer wat daarby behoort. |
25 | En op die sewende dag moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. |
26 | En op die dag van die eerstelinge, as julle ’n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan die HERE bring, moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. |
27 | Dan moet julle ’n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: twee jong bulle, een ram, sewe jaaroud lammers; |
28 | en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul, twee-tiendes vir die een ram, |
29 | een-tiende vir elke lam van die sewe lammers; |
30 | een bokram om vir julle versoening te doen. |
31 | Behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, moet julle dit berei — hulle moet vir julle sonder gebrek wees — en hulle drankoffers. |