1 | EN in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ’n dag van trompetgeklank wees. |
2 | Dan moet julle ’n brandoffer as lieflike geur vir die HERE berei: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek; |
3 | en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes van ’n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram, |
4 | en een-tiende vir elke lam van die sewe lammers; |
5 | en een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen; |
6 | behalwe die brandoffer van die nuwemaan en die spysoffer wat daarby behoort, en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, en hulle drankoffers volgens die daarvoor geldende voorskrif — tot ’n lieflike geur, ’n vuuroffer aan die HERE. |
7 | En op die tiende van hierdie sewende maand moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees, en julle moet julle verootmoedig; géén werk mag julle doen nie. |
8 | Dan moet julle ’n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees; |
9 | en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir die bul, twee-tiendes vir die een ram, |
10 | een-tiende vir elke lam van die sewe lammers; |
11 | een bokram as sondoffer, behalwe die sondoffer van versoening en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort — en hulle drankoffers. |
12 | En op die vyftiende dag van die sewende maand moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir die HERE ’n fees vier. |
13 | En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle wees; |
14 | en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul van die dertien bulle, twee-tiendes vir elke ram van die twee ramme, |
15 | en een-tiende vir elke lam van die veertien lammers; |
16 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
17 | Daarna op die tweede dag: twaalf jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
18 | en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
19 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffers, en die spysoffer en drankoffers wat daarby behoort. |
20 | En op die derde dag: elf bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
21 | en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
22 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
23 | Verder op die vierde dag: tien bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
24 | hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
25 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
26 | En op die vyfde dag: nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
27 | en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
28 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
29 | Daarna op die sesde dag: agt bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
30 | en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
31 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
32 | En op die sewende dag: sewe bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek; |
33 | en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die daarvoor geldende voorskrif; |
34 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
35 | Op die agtste dag moet daar vir julle ’n feestyd wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. |
36 | En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: een bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek; |
37 | hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bul, die ram en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif; |
38 | en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort. |
39 | Dit moet julle tot eer van die HERE op jul feestye berei, behalwe julle geloftes en julle vrywillige gawes, of dit al brandoffers is of spysoffers of drankoffers of dankoffers. |
40 | En Moses het aan die kinders van Israel alles gesê net soos die HERE Moses beveel het. |