1 | VIR die musiekleier; met fluite. ’n Psalm van Dawid. |
2 | O HERE, luister na my woorde, let op my versugting. |
3 | Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. |
4 | In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag. |
5 | Want U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. |
6 | Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. |
7 | U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE ’n afsku. |
8 | Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees. |
9 | HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg. |
10 | Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ’n oop graf; hulle maak hul tong glad. |
11 | Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U. |
12 | Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet. |
13 | Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ’n skild. |