1 | VIR die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. ’n Psalm van Dawid. |
2 | O HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie. |
3 | Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. |
4 | Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank? |
5 | Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. |
6 | Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk? |
7 | Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. |
8 | My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders. |
9 | Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor. |
10 | Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan. |
11 | Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in ’n oomblik beskaamd omdraai. |