1 | SJIGGAJŌN van Dawid wat hy tot eer van die HERE gesing het weens die woorde van Kus, die Benjaminiet. |
2 | HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my; |
3 | sodat hy nie soos ’n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie. |
4 | HERE, my God, as ek dit gedoen het, as daar onreg in my hande is, |
5 | as ek hóm kwaad aangedoen het wat in vrede met my geleef het (ja, ek het hom gered wat my sonder oorsaak vyandig was), |
6 | mag die vyand my dan vervolg en inhaal en my lewe teen die grond vertrap en my eer in die stof laat woon. Sela. |
7 | Staan op, HERE, in u toorn, verhef U teen die grimmigheid van my teëstanders en ontwaak vir my, U wat die reg beveel het! |
8 | En laat die vergadering van die volke U omring; keer dan bo hulle terug in die hoogte! |
9 | Die HERE oordeel die volke. Doen aan my reg, HERE, na my geregtigheid en na my onskuld wat by my is. |
10 | Laat tog die boosheid van die goddelose mense ’n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God! |
11 | My skild is by God wat die opregtes van hart verlos. |
12 | God is ’n regverdige regter, en ’n God wat elke dag toornig is. |
13 | As hy hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp; Hy span sy boog en mik daarmee |
14 | en berei vir hom dodelike werktuie; Hy maak sy pyle brandende wapens. |
15 | Kyk, hy is in barensweë van onreg en is swanger van moeite; hy baar leuens. |
16 | Hy het ’n kuil gegrawe en dit uitgehol; maar hy het geval in die vangkuil wat hy gemaak het. |
17 | Die onheil wat hy gestig het, keer op sy hoof terug, en sy geweld kom op sy skedel neer. |
18 | Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing. |