1 | VIR die musiekleier; op die wysie van: „Die Lelie van die Getuienis.” ’n Gedig van Dawid, om te onderrig. |
2 | Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalfduisend. |
3 | O God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons! |
4 | U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel! |
5 | U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink. |
6 | U het aan die wat u vrees, ’n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela. |
7 | Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons! |
8 | God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet. |
9 | Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf. |
10 | Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa! |
11 | Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom? |
12 | Het Ú, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie. |
13 | Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid. |
14 | In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap. |