1 | VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. ’n Psalm van Asaf. ’n Lied. |
2 | God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel. |
3 | Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning. |
4 | Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela. |
5 | Glansryk is U, heerlik van die roofberge af! |
6 | Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie. |
7 | Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak. |
8 | U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het? |
9 | Uit die hemel het U ’n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword, |
10 | toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela. |
11 | Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself. |
12 | Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike, |
13 | wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde. |