1 | VIR die musiekleier; op die wysie van: „Jedútun.” ’n Psalm van Asaf. |
2 | My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister. |
3 | Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word. |
4 | As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela. |
5 | U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie. |
6 | Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. |
7 | Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors: |
8 | Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? |
9 | Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? |
10 | Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela. |
11 | Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander! |
12 | Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd |
13 | en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade. |
14 | O God, u weg is in heiligheid. Wie is ’n groot God soos God? |
15 | U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak. |
16 | U het u volk met ’n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela. |
17 | Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder. |
18 | Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg. |
19 | U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe. |
20 | U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie. |
21 | U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron. |