1 | VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. ’n Psalm. |
2 | U het, o HERE, ’n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander. |
3 | U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela. |
4 | U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend. |
5 | Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons! |
6 | Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag? |
7 | Sal Ú ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie? |
8 | Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil! |
9 | Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie! |
10 | Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon. |
11 | Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. |
12 | Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer. |
13 | Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings. |
14 | Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe. |