1 | ’n GEBED van Dawid. HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig. |
2 | Bewaar my siel, want ’n gunsgenoot is ek; U, my God, verlos u kneg wat op U vertrou. |
3 | Wees my genadig, o Here, want ek roep U aan die hele dag deur. |
4 | Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op. |
5 | Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep. |
6 | HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge. |
7 | In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my. |
8 | Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie. |
9 | Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer; |
10 | want U is groot en doen wonders, U alleen is God. |
11 | Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam. |
12 | Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer; |
13 | want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered. |
14 | O God, vermeteles het teen my opgestaan, en ’n bende tiranne soek my lewe; en hulle stel U nie voor hul oë nie. |
15 | Maar U, Here, is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. |
16 | Wend U tot my en wees my genadig; gee u sterkte aan u kneg en verlos die seun van u diensmaagd. |
17 | Doen aan my ’n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o HERE, my gehelp en getroos het. |