1 | SIT jy aan om saam met ’n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is, |
2 | en sit ’n mes op jou keel as jy ’n goeie eetlus het. |
3 | Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys. |
4 | Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. |
5 | Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe! |
6 | Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie. |
7 | Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie. |
8 | Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil. |
9 | Spreek nie voor die ore van ’n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag. |
10 | Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie. |
11 | Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig. |
12 | Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis. |
13 | Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. |
14 | Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red. |
15 | My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug. |
16 | En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is. |
17 | Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE. |
18 | Waarlik, daar is ’n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. |
19 | Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg. |
20 | Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. |
21 | Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra. |
22 | Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie. |
23 | Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. |
24 | Die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. |
25 | Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het. |
26 | My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ’n welgevalle hê in my weë. |
27 | Want ’n hoer is ’n diep kuil, en ’n ontugtige vrou is ’n nou put. |
28 | Sy lê ook en loer soos ’n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom. |
29 | By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? |
30 | By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. |
31 | Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: |
32 | op die end byt dit soos ’n slang en spuug gif uit soos ’n basilisk. |
33 | Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; |
34 | en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. |
35 | Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! |
36 | Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek. |