1 | MY seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou; |
2 | onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel; |
3 | bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart. |
4 | Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling, |
5 | sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei. |
6 | Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk, |
7 | en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense ’n verstandelose jongman opgemerk, |
8 | wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap, |
9 | in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker. |
10 | En kyk, daar kom ’n vrou hom tegemoet, soos ’n hoer aangetrek en listig van hart — |
11 | sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie — |
12 | nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer. |
13 | En sy het hom gegryp en hom gesoen, met ’n onbeskaamde gesig vir hom gesê: |
14 | Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal; |
15 | daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry. |
16 | Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne; |
17 | ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel — |
18 | kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste. |
19 | Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan, |
20 | die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom. |
21 | Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok. |
22 | Hy loop skielik agter haar aan soos ’n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot, |
23 | totdat die pyl sy lewer splits; soos ’n voël haastig na die vangnet vlieg — sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is. |
24 | Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond. |
25 | Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie. |
26 | Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is. |
27 | Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood. |